Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Peppadew dui die patentregpad aan" ( rubriek deur Ferdi Greyling)
"Peppadew dui die patentregpad aan" ( rubriek deur Ferdi Greyling) [boodskap #100607] Di, 07 Desember 2004 14:36
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4795
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Beeld-forum:
Peppadew dui die patentregpad aan
Ferdi Greyling

In 'n vorige eeu, toe baie mense anders oor goed gedink het as vandag, het
die Engelse digter Alfred, lord Tennyson (1809-1892) die volgende oor 'n
blom in 'n muur geskryf:

Flower in the crannied wall, I pluck you out of the crannies; Hold you here,
root and all, in my hand, Little flower - but if I could understand What you
are, root and all, and all in all, I should know what God and man is.

Vandag in die 21ste eeu sal Tennyson dalk verwilderd wees as vrae daaroor
gevra word - veral as die blommetjie wat sy romantiese verbeelding so aan
die gang gesit het, 'n mooi enetjie is wat oor die dekades vergete geraak
het en nou die verbeelding van tuiniers aangryp.

Hy sal baie meer vrae kry as waaraan hy kon gedink het.

Prokureurs sal hom byvoorbeeld vra waar hy die blom vir die eerste keer
gesien het en of die muur aan hom behoort. Indien nie, of iemand hom van die
blommetjie vertel het.

Hulle sal met blink oë ook aan hom vra of hy nie dalk self die blommetjie
daar geplant het en of hy nie self (hier gaan hul asems 'n bietjie begin
hyg) die plantjie dalk uit twee ander plante gekruis het nie.

Hy sal gevra word om dokumente te teken en, as hy gelukkig is, sal sy naam
bo-aan die dokumente staan. As hy minder gelukkig is, sal daar bloot staan
hy sedeer alle regte rakende die genoemde blom aan iemand anders, alle eise
uitgesluit.

En uiteindelik sal hy 'n antwoord kry wat vir hom groot insig sal bring,
hoewel nie die soort insig wat hy aanvanklik van die muse gevra het nie.

'n Prokureur (met 'n balju of wat agter hom) sal hom inlig dat hy (of iemand
anders) nou die patentreg op die "flower in the crannied wall" het en dat
niemand dit mag kweek of voortplant sonder om aan hom (of iemand anders)
geld te betaal nie.

En dan sal hy weet dat die mensdom vandag deur geldmaak gedryf word en dat
die rykste mens as die beste mens beskou word.

Dié vreemde hedendaagse denkwyse is onlangs weer geïllustreer deur die
regslawaai oor die rissiepeper wat die naam peppadew gekry het.

'n Plaaslike maatskappy het sogenaamde planttelersregte op die plant
gevestig en net hulle mag dit kweek. As enigiemand dit wil kweek en bemark,
moet hulle dié maatskappy betaal.

Die peppadew se geskiedenis is volgens alle aanduidings nog in verwarring
gehul. Iemand sê hy het dit aan die Kaapse Suidkus raakgesien, gepluk,
ingemaak en agtergekom dit smaak lekker.

Ander mense sê weer hy het die plant en die resep by hêl familie gekry en
beweer nou hulle het dit eerste raakgesien.

Wat ook al die waarheid gaan blyk, die man het dit aan die maatskappy
verkoop wat tans die eienaar is en dié maatskappy het nou die "patentreg van
plante" op die betrokke rissie.

En dit is net waar - na my mening - die vreemdheid geïllustreer word wat ons
siening van die lewe vandag kenmerk.

Iemand het 'n plant raakgesien, die feit iewers gaan registreer en sê nou hy
besit die regte op die plant te kweek en te plant.

In 'n vroeëre, meer godsdienstige dekade sou iemand seker gesê het God besit
daardie regte.

Omgewingsaktiviste sal kan vra wat van die mikrobes in die grond. Hulle doen
seker meer as die eienaars van regte om die plant te laat groei?

Van ver uit die graf hoor 'n mens ook die donderende stem van die Walliese
digter Dylan Thomas wat sê: The force that through the green fuse drives the
flower drives my green age; that blasts the roots of trees Is my destroyer.
And I am dumb to tell the crooked rose My youth is bent by the same wintry
fever...

Wat hy sê, is dat die bruisende kragte van die natuur ons en die blom gemaak
het en dat dit nie as 'n patent deur prokureurs geregistreer kan word in die
naam van iemand wat dit maar net raakgesien het nie.

Maar met genetiese manipulasie gaan dinge vorentoe erger word. Mense
argumenteer reeds dat omdat hulle op genetiese vlak ingegryp het, hulle die
plant wat tot stand kom, geskep het. (Het iemand iets van Frankenstein
gesê?)

Hulle vergeet om te noem dat genetiese ingryping maar dieselfde is as om
plante te kruis, dit word net op kleiner skaal gedoen.

Waar het ons aan die idee gekom dat ons die natuur kan patenteer?

Sou 'n hedendaagse Tennyson dalk geskryf het: Flower in the crannied wall, I
pluck you out of the crannies; Hold you here, root and all, in my hand, and
I cross you with another, root and all. Now I will for a patent call and I
should soon know a sum of money worthy to be called god and all - and then
men will be slaves to me... (hee, hee!).

Dit klink nie dieselfde nie.
Vorige onderwerp: " Vir N wat op Mosselbaai agtergebly het" deur FERDI GREYLING
Volgende onderwerp: Gedigte van INGRID JONKER
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Nov 23 10:09:31 MGT 2024